In Chemie is die Oksidasietoestand 'n aanduiding van die graad van oksidasie van 'n atoom in 'n chemiese verbinding. Die formele oksidasietoestand is die hipotetiese lading wat 'n atoom sou gehad het as al die verbindings tot andersoortige elemente 'n 100% ionies van aard was. Volgens konvensie word oksidasietoestand aangedui met Arabiese syfers en kan dit positief, negatief of nul wees.
Die proses waartydens die oksidasietoestand van 'n atoom toeneem word oksidasie genoem; 'n afname in oksidasietoestand word reduksie genoem. Sulke reaksies behels die oordrag van elektrone, 'n netto toename aan elektrone is 'n reduksie en 'n netto afname is 'n oksidasie.
Die definisie van oksidasietoestand deur IUPAC is as volg:
"Oksidasietoestand :'n Mate van die graad van oksidasie van 'n atoom in 'n stof. Dit word gedefinieer as die denkbeeldige lading wat 'n atoom sou hê as elektrone getel word volgens 'n ooreengekome stel reëls: (1) die oksidasietoestand van 'n vrye element (onverbonde element) is nul; (2) vir 'n eenvoudige (monatomiese) ioon, is die oksidasietoestand gelyk aan die netto lading op die ioon; (3) waterstof het 'n oksidasietoestand van 1 en suurstof het 'n oksidasietoestand van -2 wanneer hulle in die meeste verbindings teenwoordig is. (Uitsonderings hierop is dat waterstof 'n oksidasietoestand van -1 in hidriede van aktiewe metale het, bv. LiH, en suurstof het 'n oksidasietoestand van -1 in peroksiede, bv. H2O2; (4) die algebraïse som van oksidasietoestande van alle atome in 'n neutrale molekuul moet nul wees, terwyl die algebraïse som van oksidasietoestande van die atome waaruit 'n ioon bestaan gelyk moet wees aan die lading van daardie ioon. Byvoorbeeld, die oksidasietoestand van swael in H2S, S8 (elementêre swael), SO2, SO3, en H2SO4 is respektiewelik: -2, 0, +4, +6 en +6. Hoe hoër die oksidasietoestand van 'n gegewe atoom is, hoe groter is sy graad van oksidasie; hoe laer die oksidasietoestand is, hoe groter is die graad van reduksie."